Sleutelwoorde

Nou waar begin mens hierdie? Elke landverlater, het mos maar sy eie verhaal. Myne, het begin, heelwat voor 1994. Politiek en die gebrek aan water, was die groot dryfvere van die besluit. As ek sê politiek, beteken dit geensins, dat ek ‘n vuurvreter regse was nie. Al die jare ‘n groot VP ondersteuner, later meer links geneig, maar die werklikhede van die toekomstige Suid-Afrika, het my lankal in die gesig gestaar. Soos iemand, destyds gesê het, die Limpopo, moet ‘n besonderse rivier wees, as hy kan keer, dat Afrika, se probleme, nie na Suid-Afrika kom nie.

Gebore en getoë in die Suid-Oos Vrystaat, op die familieplaas, Vaalspruit, vir meer as 40 jaar gewoon. Die vierde geslag, wat die besluit, om te verkoop en pad te gee, baie moeilik gemaak het. Destyds, was dit ‘n ongewone besluit, vir boere, om landuit, te beweeg. Baie medici en ander professionele lui, het hulle toe reeds in die buiteland gevestig en dit was niks snaaks nie.Toe ons besluit rugbaar geword het, is ons beskuldig van baie dinge, mal-in-die-kop, verraaiers, hardlopers en sommige vriende en bekendes, het ons begin vermy. Natuurlik, eers die saak, met my pa, wat ek terloops, as ‘n baie wyse man beskou het, bespreek. Sy woorde aan my was: As jy wil verkoop, doen dit so gou moontlik. Die kraan drup nog, maar as hy begin stroom, sal niemand wil koop nie. Wat hy verder gesê het, was dat my ma, na die Sharpeville insident, gesê het, dat SA, nie ‘n land vir die witman is nie en dat hulle moet padgee, maar dat hulle nie die moed gehad het, om dit, te doen nie. Dit het my laat besef, dat die besluit, dalk nie so vergesog was nie.

Met ons vertrek, Maart 1994, ja dit was blote toeval, 1994, het ek getel, was die vriende en bekendes, wat vermoor is, 32. Daardie getal, het intussen aansienlik gegroei. Die stres en spanning, elke keer, na so ‘n voorval, het die lewe ondraaglik gemaak. Gelukkig, nie dat daardie woord enigsins tuis hoort hier nie, was geen naby familie betrokke nie, maar persone wat wat baie naby aan my was, is op die onmenslikste maniere, vermoor. Dit gaan nog steeds voort en is niks anders, as ‘n terroriste oorlog nie.

Dan water, of die gebrek aan reën, was vir my, soos vir enige boer, ‘n groot stres faktor, wat dit die meeste van die tyd, nie ‘n plesier gemaak het, om te boer nie. Veral nie in die meer ariede dele nie. Ongeveer dieselfde tyd, het SANLAM, ‘n verslag vrygestel oor die watersituasie in SA. Daarvolgens, moes die watervoorsiening, teen die jaar 2020 verdubbel het. Dit is oor twee (2) jaar.

Oor al hierdie sake, kan daar ure lank geredekawel en gesels word. Baie meer kan nog bygvoeg word. Ek wil met niemand, in ‘n bekgeveg, betrokke raak nie. Oor hoe ons hier beland het, oor ons lewe hier en wat ons alles beleef het, kan nog boekdele geskryf word. ‘n Klein bietjie daarvan, kan wel in my blog, wat ek langer as 10 jaar skryf, beleef word. Hierdie, is eintlik net maar om Toortsie en Una se navraag, kortliks, te beantwoord.

Dat dit, nie aldag maklik was nie, is waar, maar dit is nou ons wêreld, waar ons redelik stresvry en rustig leef.

Hasta la proxima

Advertisements