Sleutelwoorde

,

Lees ek oor die goeie hoedanighede van turksvye. ´n Lang en gesonde lewe, is jou amper gewaarborg, by die gereelde eet van die vrugte. Natuurlik, as jy dit gereeld, kan inneem, wat seker, normaal net hierdie tyd van die jaar,  is. Dan, moet die inneem daarvan, ook nie met overdaad gepaard gaan nie. Daar in Smithfield, my ou omgewing, waar turksvye baie volop was/is, moes een van die voorvroutjies, eendag die dokter besoek. Verstopping, in die ergste graad. Vra hy haar, na die regte prosedures afgehandel is en dinge weer na normaal terug gekeer het: Hoeveel, het jy omtrent geeet.  So omtrent vyftig, was haar antwoord.

dscn3193

Ek, het ´n stryd, om daardie lekker vrugte, hier te laat dra. Byna moed opgegee. Groei pragtig. Van die ou woonplaas, die blaaie ingesmokkel. Deskundiges geraadpleeg, Facebook en Google sommer ook. Baie rate en raad gekry en alles probeer, maar geen vrugte nie. Omtrent almal in die omgewing, dieselfde klagte. ´n Hele groot laning gehad en hulle goed versorg. 2011, ry ons ´n draai deur Brasilië en kom op ´n visplaas, waar hulle goed groei en vrugte dra. Vra die eienaar vir ´n blaai.  Plant hom saam met myne. Die jaar 2015, besluit ons dat hulle, soos die Bybel sê, uitgetrek moet word, want hulle dra, geen vrugte nie. Spring met die trekker en skotteleg in, daar vang my oog ´n plant met een,  eensame vruggie aan. Hy móét bly. Voor hy ryp was, het hy eenvoudig verdwyn. Tussen neus en mond. Lyk nie soos een van Vaalspruit s´n nie, seker die Brasilêro model. So ´n pienkerige wangetjie.  2016, die jaar wat ons geen ryp kry nie, ook geen vrug aan hom nie, teleurstelling. Veergeet daarna van hom. Dikbek, omdat hy my teleurgestel het, maar laat hom met rus.

dscn3195

November 2017,loop ek per toeval in sy rigting. Ons het ´n paar nagte, goed ryp gekry, afgelope winter. Kyk nou net! Tel hulle, veertien blomme en dit lyk of daar nog ´n paar aan die ontwikkel is. Hoe het my kleindogter, gesê: I can´t believe my eyes and my nose. Begin ons regmaak, vir die groot fees, van ´n hele sewentien, turksvye. Die afgelope week, het die fees begin, die eerste vier, wys dat hulle reg is. Drie, mooi groottes en ´n kleintjie. Een vir elkeen in die huis, die kleintjie as bonus,  vir die opsigter. Skamerig, lê hulle in die ou geel bakkie, weet seker dat hulle elders in oorvloed beskikbaar is. Stroopsoet, soos ´n turksvy moet smaak. Binne die volgende paar dae, sal nog ´n paar ryp wees en sal die fees voortgaan. Hoop, daar gaan ses ryp wees, die opsigter sal nie altyd kan aanspraak maak op meer nie, want die ander twee inwoners van die huis, hou nie van voortrekkery nie. Met ´n bietjie meer aandag en liefde, sal ons dalk volgende jaar, ´n baie goeie oes, kan geniet. Terloops, daardie blaaie met die meeste vrugte, kyk reg suid.

dscn3185

dscn3190

Dankbaar vir die kleindingetjies in die lewe, wat ons opgewonde maak. Die gróót geluk is, daar sal geen gevaar van enige verstopping, wees nie. Goeie raad, aan die turksvy liefhebbers. Eet altyd, ongelyk getalle van die vrug. Dít verminder die gevaar, want hulle verlaat dan nié die liggaam twee-twee nie, maar die een skuins, langs die ander.

Hasta la proxima

https://coetzeeblog.wordpress.com/2011/01/17/somer-en-vrugte/

Advertisements