prille jeug 3

Die foto, is in 1963 geneem, by geleentheid van my oupa en ouma se goue bruilof.

Die laaste opdrag van Scrapydo vir Augustus is, broer/suster. Aangesien, ons agt kinders was, sal dit darem baie onbilik wees as ek een van hulle uitsonder,  om oor te skryf. Wees voorbereid, hierdie kan dalk ontwikkel in ´n lang uitgerekte vertelling en soos Rondomtaliedraai gewoonlik sê: As dit jou verveel, hou maar verby.

Wat jou broers of susters en ook jou, ´n mens maak, is tot ´n groot mate aan jou ouers te danke, opvoeding ens en verder die magdom gene, wat deur hulle, in jou,  beland het. Ek dink ons was baie bevoorreg, om die kinders van ons ouers, te kon wees. In so ´n gesin, waar die eerstes, in die na oorlogsjare, dit is nou die Tweede Wêreldoorlog, gebore is, was geld nooit volop nie en het ons gou geleer dat daar nie tyd en plek vir fiemies of neusoptrekkerigheid was nie. Ek dink, dat die klomp redelik intelligent is.

´n Staaltjie, wat ek nie weet of dit al geewenaar is nie. Die Stellenbosch Universiteit het destyds, kan nie sê of dit nog in werking is nie, ´n stelsel gehad waar die “fees” (Dit is nou daardie “fees must go”) elke jaar minder geword het, vir elke kind uit ´n familie en so het die jongste broer,  die sesde een uit die familie, gratis gestudeer. The fees were gone. Julle vra van die ander twee, ek en my oudste suster, sy is net jonger as ek, was skynbaar nie universiteitsmateriaal nie.

Oudste broer, baie intelligent, Rhodes beurshouer, later verslaggewer en lektor. Die skrywer van die veelbesproke en bekroonde boek: Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz. Ongelukkig, vroeg oorlede, wat ´n groot tragedie is, want daar was nog soveel wat hy kon en seker  wou, skryf. Was ´n klas voor my, op skool. Ek onthou goed, die wonderlike opstelle wat hy geskryf het en gereeld tien uit tien vir ´n opstel gekry. Lief vir redeneer en enige geleentheid verwelkom om met enigiemand, te redeneer. Filosofie, was sy vak.  Pa,  van ´n tweeling.  Ons mis jou.

Oudste suster. Ma, ouma en ondersteunende vrou van polisiebeampte, afgetree.  Ontferm haar oor haar familie, naby en verlangs en hou kontak met hulle. Hulpvaardig en gasvry, ´n staatmaker vriendin. ´n Geheue, ek wil nie sê, soos ´n olifant nie, want sy is ´n klein vroutjie, soos altwee die ander susters ook. Ma, van vier seuns.

Volgende, was broer nommer drie. Ongelukkig ook nie meer met ons nie. As ek moet sê, dink ek die mees intelligente van ons. Was ook in die joernalistieke wêreld. Ons mis jou ook, Klein Koos.

Suster nommer twee, pastoriemoeder, dalk nie die tradisionele een nie. Was nog al die jare in die opvoedkundige bedryf, as onderwyseres. Kunstig, baie skryftalent, Perlemoen uit droë grond, was haar eerste novelle, die ilustrasies van dié  boek en nog vier ander, gedoen en nou ook afgetree. Hopelik, sal sy nou meer tyd hê, om al hierdie talente, onder die maatemmer uit te haal. Ma, van drie dogters

Suster nommer drie, ook ‘n afgetrede pastoriemoeder en ek dink, ook nie die gewone een nie. Ook baie kunstig en is deesdae, na hulle aftrede,´n skilder van statuur. Is dit nou skilderes? Joviaal en vriendelik. Ma, van twee seuns en twee dogters.

Broer nommer vier. Meganiese ingenieur. Mens sonder pretensies. Maak nie ´n moordkuil van sy hart nie. Net verlede week, op die vliegtuig, tussen Durban en OT, met sy vuurvaste oorpak en veiligheidskoene,  geklim, na ´n taak in Durban. Lag baie en maklik en het ook die soeke, na ´n argument, wat hy gewoonlik wen. Pa, van twee seuns en ´n dogter.

Laaste, maar nie die minste nie, broer nommer vyf. Dit is nou hy, wat die “no fees” op Stellenbosch beleef het. Boer. Rustig van geaardheid. Pa, van vier dogters en ´n seun.

As hierdie nou klink, soos net ´n goedpraat en soos die ou oom gese het, gebrag  van my  mense, maar bloed, is tog dikker as water, dan moet ek darem byvoeg, as ons bymekaar is, duur dit nie te lank nie, dan is daar ´n geredekawel en ´n argument, oor die politiek, of wat ookal. Soms heftig en soms, gaan dit gepaard met baie gelag. Soms bly ons, of sommige, ´n rukkie kwaad, maar word maar weer goed. So bly ons ook maar stil, vir foute, wat hier en daar gemaak word, soos in enige normale familie.

Hasta la proxima