Sleutelwoorde

Die mense wat weet, sê,  geen kos inkope, by die supermark, as jy honger is nie. Geraldo en sy waentjie, waar hy die lekkerste sosaties en wors verkoop, is perfek geplaas, om daardie mense, wat nie honger, die supermark wil besoek nie, se probleem op te los.  Die reuk van die braaivleis en wors, hang swaar in die lug en dit kan nie anders, as om ´n kopie of wat te maak nie. Terwyl daardie reuk, so met my speekselkliere woel, wonder ek toe skielik, wat dit met vegetariërs sou maak?   Dalk kan iemand wat een is, daarop antwoord.

DSCN1921

Soos die toeval dit wil he, is twee van die dorp se supermarkte, regoor mekaar, langs die dubbelstraat, Avenida Dom Pedroi, met die middelmannetjie. Óp daardie middelmannetjie, mooi tussen die twee supermarkte, het hy, hier is net die naam belangrik, toe ek hom vra wat sy naam is, Geraldo, sy netjiese braaier staangemaak.

DSCN1917

Van so ongeveer elfuur tot twee uur en dan weer van so vieruur tot seweuur, lok daardie lekker reuk van sy sosaties, asadito, die honger kliënte van die supermarkte en enigeen wat verby kom. Hoe lank is jy al aan die gang, met hierdie werk? Hy frons, dink ´n oomblik. 8 jaar. Jy tevrede met die werk? Ja, ek is baie tevrede en almal in die omgewing ken my.  Almal ook tevrede met die vleis en die smaak. Hoe kry jy dit so lekker?  Hy lag,  lig die deksel van die houer, agter die braaigedeelte, waarin die rou sosaties  lê en wag, op so ´n skrefie. In ´n sous, wag hulle vir die gaarmaak. Besluit om hom nie die geheim te vra nie. Koop een sosatie, wil darem net proe, want  ek weet, tuis is daar genoeg kos en kan nie nou my hele honger stil nie, hoewel die versoeking groot is. Ek sal môreaand meer kom koop.

DSCN2003DSCN2006DSCN2008

Hoeveel vleis se sosaties verkoop jy op ´n dag? Dadelik, kom die antwoord, 7,5 kilogram. Ek dink ´n oomblik en dit klink vir my darem baie min. Later, toe ons mooi gaan nadink, ´n sommetjie of wat maak, met hoeveel vleis daar op ´n stokkie is en wat die prys is, besef ek, dat hy ´n heel gangbare bestaan kan maak. As die stukkies vet, wat tussenin is, en  in aanmerking geneem word, dat dit baie goedkoper as vleis is, verander dit die prentjie verder. Gelukkig is daardie vet, nou gesond om te eet.  Nie té lank gelede nie, sou ons daaroor gekla het.Soms kom daar van die fazendeiros (boere), dan vat hulle sommer ´n handvol. Wat maak jy as jou vleis op is?  Kyk hy my, asof dít,  darem ´n dom vraag is, wat dit seker ook was. Die twee supermarkte is mos net hier oor die straat. Die tradisie hier is, dat daar altyd ´n paar stukkies mandioka, ook saam met die vleis gaan. ´n Ete, op sy eie.

Met die wegstap, herinner hy my: Ek sien jou môreaand!

Hasta la proxima

Advertisements