Sleutelwoorde

Voor- en nadele, het elkeen. Om op die dorp of op die plaas te woon. ´n Groot nadeel op die dorp, is daardie reuke, hier praat ek nou nie van onaangename reuke nie, want hulle is skaars. Mý probleem, is daardie kwylbekreuke, wat van huise in die omgewing kom, wanneer die hongerpyne begin gesels. Vroegoggend, die reuk van die varsgebakte brood, van die tuisbakkerytjie, om die hoek, vanmiddag laterig, die kosreuke, van die derde huis, straatop. Wonder, wat daardie tante doen, dat haar reuke so prominent is? Vanaand vis en skyfies, môreaand, een of ander gereg met die knoffel, duidelik, net genoeg. Terloops, dié mense is baie, baie lief vir knoffel. Spek, wat laat mens se mond meer water, as die reuk van spek in die pan? Dan, natuurlik, die dag as ons nié braai nie, veral naweke, die lekkerste van almal, daardie braai reuk, wat sommer van oraloor kom.

DSCN1962

Daardie tuisbakkery, van Lenir en Adinaldo, is die sondebok, wat die varsgebakte brood reuk versprei. Vergelykbaar, met ´n melkery. Elke dag, douvoordag, opstaan.  Meel, suurdeeg, knie, gelukkig, is daar darem masjiene, wat daardie taak,  verrig. Lekker omgewing, nie die koue van ´n koeistal nie, vrolike Brasiliaanse musiek wat speel, o, ja daar is mos darem deesdae melkerye, wat musiek in die stal speel om die koeie beter te laat sak, en die klimaat is leefbaar. Vrolike, vriendelike mense.

DSCN1978

DSCN1976

DSCN1998

Om een of ander rede, is dit in hierdie wêrelddeel, makliker, vir die klein vervaardiger, om nog ´n plek in die voedselketting te beklee. Mits, hulle natuurlik effektief genoeg is en aan al die higiëniese standaarde voldoen. Die bakkery, is eintlik Lenir se afdeling, maar vroegoggend, is Edinaldo aan haar sy om te help. Ongeveer 70 kg meel, elke dag. Twee oonde, een deur hout verwarm en een gas, word gebruik. Opmerklik van die broodverkope. Elke brood, word afsonderlik geweeg en sy prys, dan volgens sy gewig bepaal. Geen ondergewig brode nie. Hulle glo, dat die sukses van hulle brode, baie te doen het, met die feit, dat hulle hul suurdeeg, nog op die tradisionele manier maak.

DSCN2026

DSCN1984

DSCN1965

Plaaslik en by twee naburige dorpe, word van hulle brood verkoop. Sondae, is rusdag. Geen probleem, om van hulle brood ontslae te raak nie. Edinaldo, doen die aflewering en dan is hy tussen al dié bedrywighede, ook besig om naamborde en skadudakke van besighede, te fabriseer.

Vriendelike en spontane mense, wat nie bang is vir werk nie.

Hasta la proxima

Advertisements