Die nuwe woord, deesdae, is impakspelers, dit is nou daardie ry plaasvervangers op die bank, wat die wedstryd moet red, hier aan die einde, as dit nie so goed gaan met die span nie. Vir ons wat in die buiteland woon, dit is nou oud-Suid-Afrikaners, is daar skynbaar nie plaasvervangers vir die tradisionele dinge, wat ons ons verbeel, ons nie sonder kan klaarkom nie. Byna in sak en as, is ons, as daar nie Marmite of enige donkerkleurige smeersel, ek sal verkieslik nie die regte kleur noem nie, want daar word nou so maklik, ´n bordjie om jou nek gehang, wat ek nie is of wil wees nie, in jou kruidenierskas is nie. Soveel meer dinge, wit mieliemeel, rooibostee, vlapoeier, blatjang, Ouma se beskuit, wat in elk geval nie baie lekker is nie en verseg om die koffie of tee op te slurp, soos goeie beskuit behoort te doen. Peppermint Crisp, vir daardie lekker terte, en nog ‘n paar ander dinge, waaraan ek nou nie,  kan dink nie.

dubai kuier 058

dubai kuier 060

Hoor jy iemand gaan SA toe, kom die versoeke, vir iets kleins, om asseblief, saam te bring. Dan is dit gewoonlik, vir een van daardie produkte. Aangesien ons, nou nie so bevoorreg is om een van die internasionale supermarkgroepe, hier te hê nie en ons ook boonop te min is, vir die plaaslike supermarkte, om van daardie produkte in te voer, moet ons of dink aan plaasvervangers of die reisigers pla, met waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Natuurlik, is daar deesdae die opsie, van aanlyn aankope, as jy bereid is, om die astronomiese pryse van die produkte en die aflewering te betaal.

wors

pap

Sommige, het vrede gemaak, met wat beskikbaar is, en leef daarvolgens, wat dalk die logiese moet wees. Trek die tande uit vir die Peppermint Crisp tert en maak iets anders, wat net so lekker is.  Wit mieliepap, het ´n baie goeie plaasvervanger in polenta, dalk nou net nie so wit nie. Vir die swart, o gaats, daar glip die kleur uit, smeersel, is daar ook goeie plaasvervangers. Würze, Worcestershiresous of sojasous, op brood,met botter net so goed, maar natuurlik is daar kenners, wat net Marmite, Bovril of Spread verkies. Vlapoeier, nog ´n gewilde langafstand reisiger. Die vernuftige huisvrouens hier, het lankal uitgevind dat Vanilla Puddin, ja, dit is hoe dit gespel word, net so goed is.  Wat van ouma se beproefde resep van Maizena, eiers, melk, suiker en vanilla?

DSCN0427DSCN0980

O, ja en Mev Balls se blatjang. ´n Groot versugting. Weereens, die vlytige vrouens hier en baie beskikbare resepte, verwerk lankal, die seisoenale oorskot van sekere vrugte, in die heerlikste blatjange (is dit die regte meervoud?). Piesangs, mango´s, tamaties, noem maar op, enige tyd net so lekker soos die wat ingevoer en by Spinney´s in Dubai or waar ook al gekoop word. Praat nou nie eers van die prys nie.

Ons wors, die van ons wat self maak, is van der beste. Goeie vleis, die regte speserye, sonder enige van daardie kunsmatige kleursels en preserveermiddels, van die kommersiële mengsels, wat deesdae so gewild is. Ouma se resep en dit bly vir ons nog die heel lekkerste. Geen plaasvervangers nodig nie.

Duidelik, is daar by baie, die verlange om te eet, van die disse, van vergange tye. Gaan dalk nie soseer oor die kos nie, maar die hunkering na mense, wat dit saam met ons,  geniet het.

Die afgelope Saterdag, het die impakplaasvervangers, nie veel van ´n rol gespeel nie.Weet nie of dit hierdie Saterdag, gaan verander nie.

Hasta la proxima

Advertisements