Ons kuiers was nog glad nie  klaar nie en ons geselse ook, nog nie op nie, ver daarvandaan. En nou? Nou moet ek maar daarsonder gaan. As ek op my foon se WhatsApp kontaklys gaan, is jou naam bo-aan. Moet dit seker, maar verwyder, want daar sal nooit weer ´n oproep wees nie, maak nie saak in watter rigting nie. Nou is dit net elke keer ´n hartseer herinnering, as ek dit sien.

abel 2

Die jaar was 1989, ´n jaar na die vloede, wat die Suid-Vrystaat getref het, wat ons paaie gekruis het. Dit was ´n besonderse vriendskap. ´n Aangetrokkenheid, wat ten spyte van ons elkeen se lief en leed, bly voortbestaan het. Die deel van sentimente, waaroor ons, sonder om mekaar te probeer beinvloed het, net eenvoudig, oor saam gestem het. Die entoesiasme wat ons gehad het, van die wete om Vaalspruit se dam te herstel en toe die teleurstelling, dat die koste eenvoudig net te veel sou wees. Daarna, die afstand van ons vertrek en die feit dat kommunkasie, tot ´n minimum beperk was, ten minste vir die eerste paar jaar,  was geen rede om die vriendskap te laat skipbreuk ly nie. Elke keer as daar ´n weersiens was, het die kuiers, maar net voortgegaan, asof ons mekaar die vorige dag nog gesien het. Daarna, die lekker van Skype, Messenger en WhatsApp, die groot geselse.

Jy was die eerste vriend, wat hier kom besoek aflê het. Wel aangehelp deur ´n traumatiese egskeiding, maar jy het gedink dat jy hier, weer helderheid, sou kry. Wat ek glo jy gekry het, want die besluit was Marietha, en dit kon nie beter wees nie. Die volgende staaltjie, het vir baie ligte oomblikke vir jou en vir my gesorg. Jou boodskap met die datum van aankoms, het bloot die tyd van landing op Asunción se lughawe aangegee. Dít is nou nie so ´n besige lughawe, dat mens kommer oor watter lugredery nie. Jou laaste sms, het bloot gesê: Onthou, ek is by AA. Gevaarligte in my gemoed. AA, Alkoholiste Anoniem. Traumatiese egskeiding, drank, o, wee. Jy moet jou vriend oppas. My vriend Nico, ry saam lughawe toe en ek lig hom in oor my bekommernis. ´n Monster van ´n soel, warm, mid Desember somersdag. Ideaal, vir ´n koue bier. Skaars in die ou Hi-Lux en jy doen navraag na ´n koue bier. Daar is dit! Ek en Nico, kyk vir mekaar, bekommerd. Praat dit weg, die verkeer is te erg, kan nie nou hier stilhou nie. Hou maar bietjie uit. Entjie verder, is daar ´n gawe roomysplek, sal daar stilhou. Hier is drank oral te koop, stap by die roomysplek in en daar staan hy, die yskas met al die koue biere, waaraan jy kan dink. Jy stap reguit daarheen en haal vir jou ´n yskoue Pilsen uit en sluk byna die helfte weg. Nico en ek moet tevrede wees met roomys, want ons bestuur. Tuisgekom, taktvol, doen ek navraag oor die drankprobleem en Alkoholiste Anoniem. Jy kyk my verbaas en ongelowig aan. AA, jy het dan gesê jy is by AA. Kom daardie helder lag, van jou. Ek het bedoel American Airlines. So kan mens maklik, onwetend in ´n slaggat trap.

Dankbaar, dat ek jou as ´n vriend gehad het. Die leemte, gaan erg wees, maar ek wil nie eers dink hoe hulle, Marietha en die kinders en al jou ander vriende wat nader was,  moet voel nie. Daar is soveel meer, wat ek op die hart het, woorde, is so ontoereikend, dalk beter dat ek dit alleen moet saamdra.

Hasta la proxima

 

http://www.bronberger.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=3246%3Ageliefde-kitty-hawk-vlieenier-sterf&catid=49%3Aons-mense&Itemid=74

Kyk ook Francois Gouws se Fb  Shutdown farewell salute vir Oom SES

Missing man for Oom SES (Abel Pienaar)