The hills are alive,  neee, nie met Julie Andrews se sound of music nie, maar met die eentonige gedreun van die suikerrietstropers. Ja, dit is weer daardie tyd van die jaar, beweging oral, tussen die suikerrietlande. Stropers, massakarre en vragmotors. As die weer hou! As hy, die stroper, ver is, word jy in die nag wakker en wonder, wat se vliegtuig gaan nou verby? Sommer ´n hele span ligte bymekaar.

DSCN1842

DSCN1849

Deurnag dreun hulle, net die weer, reën en tussen in, noodsaaklike diens en stilhou vir brandstof, bring stilte. Dié manne, saam met die trokdrywers, het nie angs vir werk nie. Vandag, is Sondag, Moedersdag en nog  Paraguay se nasionale dag ook, maar alles is aan die beweeg.

DSCN1851

DSCN1859

DSCN1874

 

Gister ´n draai geloop by die 4 vragmotors, wat staan en wag, vir daardie massakarre om in hulle staal buik, geledig te word. Gemoedelik, by Ruben, se Scania, die 4 bestuurders en twee jongelinge van die omgewing, wat kom kyk hoe die werkery verloop. Sommige, besig om te eet.  Word ek genooi, ´n stoel vir my nadergesleep, op die oopklap deur, van die spens onder die pens van die wa,  vir my ´n bord reggesit, sout en peper aangegee en voor ek kon bedank, moet ek wegval. Lekker guiso, stew, saam met die harde broodrolletjies. Die standaard spyskaart van die camioneros. Rys word net soms afgewissel met pasta.  Nou wie van julle kook?  Ruben, sê hulle, hy hou daarvan en kook die lekkerste. Dit is nou as ons bymekaar is, andersins moet elkeen maar vir homself sorg. Die lewe van ´n trokdrywer, camionero. Geduldig wag, tot dit sy beurt is en by die aflaaipunt weer wag, tot hy moet aflaai. Nou, het julle dan nie vakansiedag nie? Nee, as die weer mooi is, soos nou, moet ons werk. Daar is genoeg dae van reën, dan kan ons rus. Ons moet eet en die trokke betaal. Fluks mense.

DSCN1861

DSCN1863

DSCN1865

 

Intussen dreun die stroper, onverpoos voort, ry na ry, op en af en word die massakarre geledig. 5 van hulle om die trok van 30 ton materiaal te voorsien. Vreemd om die kaal land, met die bedekking van oortollige plantmateriaal weer te sien. Vir 3 maande sal ons weer ´n onbelemmerde uitsig he. Geleidelik, sal ons weer gewoond raak, aan die plante wat ons uitsig bederf, maar die geluid van die wind, deur die blare, herinner effe aan die see.

Toe ek wegstap en dankie sê, noem ek,  dat ek sal kom vir ´n paar kooklesse, want die kos is beter as wat ek tuis kry.  Natuurlik nie waar nie, maar dit laat hulle tog lekker lag.

Hasta la proxima.

Advertisements