Die weervoorspelling, maak ons effe senuagtig. Nou nie dat ons nie baie reën gewoond is nie, maar hulle praat, of wys, so in die omgewing van 200 milimeter, en dit oor die paasnaweek. Eintlik, tot Saterdagoggend. Ook nie dat ons bang is vir die nat pad nie, maar  ons word herinner, dat ons 6 jaar gelede, oor die eintste naweek, ´n groot oorstroming gehad het. Dit,  nou volgens Facebook se goeie geheue. Dan maar dorp toe gaan en  voorraad gaan aanvul. Dalk kom daar Sondag gaste ook en moet daar reg gestaan word.

IMG_3374

Stap by die supermark in, roep sy my,  señor Danie! Dit is Fanny, ja, hier is dit nogal ´n gewilde naam onder die vrouens. Voor by die toonbank, waar die pos is en vanwaar alle pakkies versend en ontvang word. Sommige mag miskien sê dat ons in ´n Derde Wêreldland woon, maar ek moet dít sê, dit is baie maklik om pakkies te versend en te ontvang. Vyf keer per dag, is daar ´n bus wat Asunción toe loop en daarvandaan kom, met ´n puik “encomienda” diens. Pos werk effe anders, die poskantoor is in Melgarejo, eintlik ons dorp, maar die supermarkmense, is so gaaf, om almal wat vra, se pos saam te bring. Die elektroniese media, het gemaak, dat die vraggie pos, ongelukkig, want ´n regte, egte brief, is darem nog die ware Jakob, al kleiner word. Behalwe, in uitsonderlike gevalle, word daar ook nie rekenings uitgestuur nie. Dié moet jy maar self sorg dat jy gaan betaal, anders word jy gebel, as jy nou te lank agterstallig,  is. Die pos waaraan ons gewoond is/was, is eintlik nou maar net ´n genotjie, af en toe.

Met die aanhoor van señor Danie, toe weet ek, my boek het gekom. Die Dohne Merinoskaapras, ek wil nou nie sê is dié ras sonder gelyke nie, want dan is daar van my Merinovriende, wat my gaan verkwalik oor die uitlating en siende dat ek nie provokasie soek nie, kan ek maar net sê dat dit die ras is wat my baie goed behandel het en waarvan ek swaar afskeid geneem het in SA.  Die stigting van die Dohnegenootskap, het onlangs sy 50e bestaansjaar gevier. Cameron McMaster, wat baie lank die rasdirekteur was, het ´n boek geskryf oor die geskiedenis van die ras. Ek weet nie of van enige ander ras, skaap of bees, so ´n  volledige boek oor sy geskiedenis het nie?

IMG_3371

Lankal lek ek my lippe af vir die boek en Cameron willig toe in om vir my een te stuur. Ten volle verseker, want met sommige posdienste, weet mens nooit. Jy kry mos deesdae, as die posstuk verseker is, ´n kodenommer waar jy by die posdiens kan navraag doen oor die stuk se vordering. Dít het ek gereeld gedoen en die antwoord was pal maar net: underway to destination. Op 27 Januarie is die boek gepos en Donderdag 24 Maart het ek hom in my hande gehad. Veilig by sy bestemming.

Daar was nog net tyd vir deurblaai en enkele hoofstukke lees. ´n Aangename ervaring, baie ou bekende gesigte, ongelukkig, ook baie, nie meer daar nie. ´n Groot vrag nostalgie en heimwee, maar wat duidelik is, nie net oor wat ek in die boek lees nie, maar ook oor wat te siene is, in die landboupers van SA, is dat dit goed gaan met die ras en hy steeds goeie vordering toon. Dankie Mac, ook aan jou opvolgers, wyle Henri Londt en nou Kobus Delport. Die groot lees sal kom wanneer ek rustig is.

Van die meer as 200 mm wat voorspel is,  het daar toe net 65 geval.  Waaroor ons dankbaar is.

Hasta la proxima