Wat weet ´n Vrystater nou van Kaki, of Cacqui of ´n Persimmon af, behalwe die kleur kaki. Daar in die koue van die Suid-Vrystaat, sou die plant, wat hier ´n groot boom is, sekerlik die eerste winter die gees gee het, veral op Vaalspruit. Langs die spruit en oop na die suid-ooste, heel ontbloot om die volle  aanslag van die Oos-Kaapse winde te trotseer. My pa, het gesê, dat hy maar net vrugtebome plant, dat die mense nie moet sê dat hy te lui is om hulle te snoei nie. Wat hy ook elke jaar, baie getrou gedoen het.  Ek weet van 1 jaar wat daar wel vrugte was, dit het toe seker geen laat ryp gemaak nie. Toe kom die droeë jare, die dam het vir agt jaar leeg gestaan en daar vrek hulle toe almal. Is dit polities korrek om te sê dat ´n boom gevrek het? Vir sommige is dit mos deesdae onaanvaarbaar om te sê dat ´n dier vrek.

DSCN0968

Net voor skemer gaan pluk ek, ons volgende dag of twee se voorraad,  van ons eie Persimonvrugte, ja, daar is twee spellings. Gelukkig is dit ´n vrug, wat mooi ryp word, wanneer hy verkleur.  As ons moes wag tot hulle goed ryp is, sou ons geen een van hulle te ete kon kry nie, want die voëls verorber hulle te gou.  Het ons ´n ruk gevat om aan hulle gewoond te raak en te geniet.  Ietwat te gou en jy het daardie onaardige vrank smaak in jou mond wat jou tande so stomp laat voel. Nou wag ons tot hulle daardie donker oranje kleur het en as hulle begin sag word, maak ons hulle vesigtig, nog sagter en suig hom dan soos ´n lemoen uit. Daarna eet ek die skil en raak net van die pitte ontslae. Die plukstok, is nie werklik ontwerp vir hulle nie, maar met ´n bietjie van ´n verstelling, kry ek tog genoeg van hulle, doer buite bereik.

DSCN0975

DSCN0973

Sommer ´n avokado of wat ook gepluk. Luukses vir baie in die koue dele en hier het ons te veel van hulle, dat ek half uitgeeet raak. Volgens die geskrifte, is hierdie vrugte, baie, baie gesond. Raadpleeg onkel Google maar.  Diospyros, die latynse naam van die genus, beteken nie verniet God´s Pear nie.

Hasta la proxima