As ons van ons af, dit is nou Colonia Independencia, noord-oos ry, na die grens van Brasilië, dan gaan ons tussen die dorpe, Curuguaty en Cruse Guarani, by die yslike silo verby. Die silo, soos talle ander, is die lewensaar van die plaaslike gemeenskappie. Vragmotors, en wat daarmee gepaard gaan, werkers by die silo, kosvoorsiening vir die bestuurders, wat soms lang tye in die tou moet staan, om op of af te laai, vulstasie ens. Sien ek die winkel met die naam van El Danes. Dink ek, kan dit nou sowaar ´n regte Deen wees wat hom hier bevind? Mense van daardie deel van ons planeet, kom tog nie hierheen nie. Dalk is dit ´n plaaslike een, wat dit net ´n mooi naam gevind het?

DSCN0416
Dié week, met die terugkomslag, draai ek in. ‘n Normale klein gemeenskappie se winkel. Iets van alles. Sowaar, ´n regte, egte Deen. Tove Larsen. Vriendelik, waarmee kan ek help, vra sy? Verduidelik, die rede vir my besoek. Geen probleem nie. Watse taal verkies jy? Jy sal seken nie Deens praat nie en my Engels en Duits is baie verroes, geen oefening, jy weet. Hou maar by die Spaans, wat ek hoor, deurspek is met die Portugees, weens die Brasiliaanse invloed in hierdie omgewing.

DSCN0419
Ongelukkig, kom en gaan die kliente en kry hulle, met reg, voorkeur. Tussen deur probeer ek bietjie inligting bekom. 25 jaar, is ons al hier. My ma en haar 5 kinders het gekom. 3 van hulle is terug na Denemarke, maar ek en my broer is hier om te bly. Hy het die roomysplek, net hierlangsaan. Die normale vrae, was jy al terug Denemarkte toe? Ja, een keer, vir 5 maande, maar dit is my plek dié. My twee kinders en twee kleinkinders is hier.

DSCN0418
Wat het julle kom doen? Ons spesifiek, het ´n gas vrieskas gehad en daar was destyds, nog geen krag nie. Ons het ysies gemaak en verkoop. Sommer daardie aanmaak koeldrank in die plastiese sakkies. As dit regtig warm was, wou die ou vrieskas ook maar nie. Was mos nie gebou vir dié klimaat nie. So het die kliente elkeen nog iets anders, lekkergoed, plakkies (die nasionale skoeisel) en wat ook al, gesoek en het ons bestel en uitgebrei, tot wat jy hier sien. Wil jy groter? Nee, wat, hierdie hou my besig en ek verdien genoeg.seteq lapacho 068
Hoekom het julle Denemark verlaat? Dít is ´n lang storie, as jy weer verbykom en daar is meer tyd, kan ons daaroor gesels. Interessante mens, ver verwyder van haar oorsprong. Soos, so baie op hierdie kontinent.
Broer Hans Larsen, was nie beskikbaar by sy roomysplek nie, volgende keer.
Hasta la proxima.

Advertisements