Ons oorlede stiefma, oum Rachel, het hier om en by Kersfees altyd gesê, dat haar ouma gesê het, dat mens hierdie tyd van die jaar, koek vir ontbyt kan eet. Dít het ons, én natuurlik die kleinkinders, altyd ter harte geneem en gebruik gemaak, van daardie toegewing. Hier in Suid-Amerika, ek weet nou nie oral nie, maar ten minste in Brasilië en Argentinië en sommige hotelle in Paraguay, maak daardie sommer van toepassing reg deur die jaar. Ek weet nie of dit ´n gebruik is, wat dalk, oorgewaai het van Europa nie. Was nog nooit juis in hotelle daar, dat ek kennis daarvan het nie. Daar is baie meer berese lesers hier, dalk kan hulle kommentaar lewer.

ontbyt
Die meeste hotelle hier, bedien vir ontbyt, ´n redelike groot verskeidenheid van soetgoed. Wat vir ons aan die begin, baie snaaks was. Koek vir ontbyt? Hoe duurder die hotel, hoe meer word die Engelse tipe van ontbyt. Spek, eiers, worse, koue vleise, graankossse, vrugte, croissante ens, baie groot keuse. Goedkoper, minder van die warm disse,nog koue vleis, kaas, ´n broodjie, graankosse, vrugte en ja, steeds koeke. Die heel goedkoopste, ´n koppie koffie en ´n broodjie. Moet darem bysê, dit is nie ryk, romerige koeke nie. Redelik droog, met hier en daar iets soos gesnipperde vrugte, bo-op.

ontbyt 2
Ek kla nie oor hierdie kultuur, tradisie of wat ookal nie. Ek probeer steeds almal oortuig, dat ons ons etes met die nagereg moet begin. Dit is daardie te veel nagereg, aan die einde van die ete, wat ons gewigsprobleme veroorsaak. Nou kan ek, vir ontbyt, wegval met die soetgoed.
Dalk kom hierdie tradisie, van voor die Franse Revolusie, toe, (was dit Marie Antoinette?), aanbeveel het dat die bevolking moes koek eet, toe daar niks anders was nie.

Ek is baie laat, maar ´n baie goeie 2016 vir ´n ieder en ´n elk.

Hasta la proxima