theo

Hoe lank is die paadjie wat ons gestap het? Duidelik, in my geheue, van 1958 af, Standerd 3. Ek was nog nooit in die skool nie, my ma kon ons destyds, by die huis, op die plaas leer. Alles vir my vreemd. Gelukkig beland ek toe langs jou, in die klas en ook in daardie ou groot koshuiskamer, aan die einde van die gang. Ek het maar gekyk en jy het my beduie, hoe dinge werk, soos ´n ouboet sou maak. Ons het mekaar darem so effe geken, van af en toe, Nagmaalsondag. Ons kinders kon mos nie kerk toe gaan, terwyl die grootmense nagmaal gebruik het nie. Lekker in die strate gespeel, ons en julle en die Du Plessis tweeling.
Daarna het ons paaie geskei. Jy na Grey en ek na Sentraal. Dít het niks aan ons vriendskap gedoen nie en ons kon al die jare lekker gesels oor gemeenskaplike vriende en kennisse, van watter skool ook al. Dink die eerste plaasparty, wat ek bygewoon het, was daar op Inhoek. Hel, was dit darem nie onskuldige, lekker parties nie. Ta Lena en oom Addie, maar in die omgewing, in die agtergrond, om te sien dat dinge goed verloop. Jy, wat so lekker kon dans.
Omtrent saam getroud ook. Julle, op Prairie, daar langs die Caledon. Jou mielies en ander gewasse, so mooi onder die besproeiing. Ek dink nou nog, jy was ´n beter saai- as veeboer. Nou is dit nie meer belangrik nie. Kinders ook omtrent so saam-saam. Ons verjaarsdae, vier-vyf dae uitmekaar. Trots dat jy vier dae ouer as ek was. Lekker tye, jy altyd die siel van die geleentheid. Joviaal, vriendelik met almal. Op ´n mooi manier, skoorgesoek, met almal.
Toé is ons weg. Klomp jare, was die kontak nie so gereeld nie. Kom die internet en Skype en deesdae WhatsApp en Messenger en daar kon ons gesels. Gereeld soos die aand voor die noodlottige dag. Dankie daarvoor. Lank en sonder dat ons die horlosie hoef dop te hou.

Jy wat so daarvan gehou het om te braai. Jou nog laas gespot en gesê dat dit tyd is vir jou om ´n handleiding te skryf oor die voor en nadele van die verskillende modelle braaiers.  Ek dink ons het 10 0f 12 getel, maar daar was ´n paar wat mense geleen het ook. Jy was nie seker wie dit was nie, hoop hulle weet nog en onthou waar dit vandaan kom.
Hulpvaardig jy, soms dink ek té hulpvaardig. Waar jy ´n hand of raad kon gee, was jy beskikbaar. In jou lewe was daar nie plek vir ´n wrok of grief, om die nes van jou daaglikse lewe te bevuil nie. Ja, daar was sulke adders ook, wat misbruik gemaak het van jou goedheid. Dít weet die hele gemeenskap. Jy was een van die min mense, wat geseën was met die uitsonderlik menslike eienskap, wat tuis gevoel het in die geselsskap van hooggeplaastes en die armstes en die belangrikste, wat hulle net so tuis laat voel het. Die wêreld kort meer mense soos jy. Ek moet seker sê, soos jy was. Die leemte sal nie gevul word nie.
Ek is lus om daardie bike van jou, te verwens, maar ek kan nie, want ek weet hoe jy dit geniet het. Soos jy die dinge wat jy aangepak het, met oorgawe gedoen het, so was dit met daardie motorfiets. Om jou die reine waarheid te vertel, eintlik, was ek baie boos vir jou. Om ons met so ´n hoop hartseer te laat, toe besef ek dat jy deur jou lewe, berge welwillendheid na gelaat het.  Baie, baie meer as die hartseer. Eintlik moet ek vra en kwaad wees, oor die bees. Wat het sy daar gesoek?
Ek huil oor jou, my vriend.
Hasta la proxima.

Advertisements