Sien ek die knewels in die supermarkte, dit is nou die groenes en die ou droeë, harige bruines, verskyn daar voor my geestesoog, brosjures van eksotiese, tropiese strande, Hawaii of die Karibiese Eilande, met meisies in bikinis, elkeen met een in die hand, al suiende aan ´n veelkleurige strooitjie. Kokosneutwater. Vakansiestemming op hul gesigte. Dít, moet ek probeer. Kom my diep plattelandse agtergrond, nou na vore. Toe ek die foto´s neem en begin uitvra, seg sy vir my, jy kan tog nie daaroor skryf nie, almal ken dit, maar ek het dit nog nooit beproef nie.

DSCN9645

palmdrankie
Volgens Wikipedia, is dit ´n “drupe” (steenvrug, pitvrug en daar leer ek ´n nuwe woord, drupe), nie ´n neut nie. Cocos nucifera, klapper, klappermelk, klapperwater en klappermeel, ´n veelsydige plant. Laasgenoemde, baie gewild, met dié dat daar soveel mense met gluten allergie is. Tot 30 meter hoog, word daardie palms. Wonder nou, hoe kan dit ´n steenvrug of pitvrug wees, met daar waar die pit moet wees, net water, wat later, wanner die vrug ouer is, met ´n bietjie se gekarring, verander in klapper en klappermelk? Dalk weer by Google gaan loer, hoe dit werk? Siende dat klapper, nie hoog op my lys van smaaklike, eetbare produkte is nie, weet ek nie of ek verder daarop sal ingaan nie.
Nou hoe kom ons by daardie water. Jy boor met die regte boor, ´n gaatjie tot jy by die vloeistof kom, druk ´n strooitjie in en siedaar. Baie lekker vertel hulle my. Groot persoonlike teleurstelling. ´n Effense bekendheid. Iets van, ja, is dit nou grenadella of wat? Glad nie iets, wat ek vir my daar op die strand sou koop nie. Smaak, mag gelukkig verskil.

DSCN9618
Nadat ons die water, ek kan nou nie sê geniet het nie, maar opgehad het, sny ek hom oop. Goeie skerp mes, maar ek dink ´n ystersaag sou beter wees. Net om te sien hoe hy daar uitsien, aan die binnekant. Niks snaaks nie. Die holte, vir die water en onder die skil, die wit, wat later dan die klapper sal word. Die nuuskierigheid is gestil.

DSCN9651

DSCN9643

Ons buurtante, tannie Mona, het altyd van flou tee gepraat as kasaterwater. Dink dat dit ook ´n goeie benaming kon wees, vir daardie water. Ja, kasaterwater, so bietjie “druperig”. Die bikinidraers, is welkom, om te drink soveel, as wat dit hulle, behaag.
Hasta la proxima.