In opdrag van Scrapydo.
https://scrapydo2.wordpress.com/2015/09/03/toeka-tokkel-no-37-oudhede/
Wat moet bly en wat moet ons saamneem? Met daardie vraag, het ons baie geworstel, toe ons die groot besluit geneem het, om te trek. Mooi, moes ons besluit, want op die ou familieplaas, het ons ‘n sewe slaapkamers huis gehad. Onthou, ons was agt kinders en hier het ons ´n piepklein huisie met 1 groot slaapkamer en 2 net sulke piepklein gastekamers gehad. Doelbewus, het ons nooit oudhede bymekaar gemaak nie, maar hulle was eenvoudig maar net daar. Aangesien my ma ´n redelike oudhedeversamelaar was, het heelwat van daardie meubels hul weg na ons huis gevind, toe daardie huishouding se inhoud, verdeel moes word.
Juis daarom, het ek as jongmens, my voorgeneem om nie oudhede, doelbewus aan te skaf nie. Ironies, was my eerste meubelstuk, ´n riempiesbank, wat ´n geskiedenis, aan my ma se kant van die familie, gehad het. Daardie riempiesbank, het gedurende die ABO, bewaargebly onder ´n holkrans, in die Brandwaterkom, waar oumagroot en haar dogters en kleinkinders geskuil het teen aanvalle van die Tommies. Die hele sage is vervat in die boek: Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? Soos ´n páar ander oudhede, het ons besluit, dat daardie riempiesbank, ´n antieke koperbed en ´n ou “roll top desk”( wat is die Afrikaans daarvan) asook ´n ou traporreltjie, eerder tussen die kinders verdeel moes word. So ook, die ou tafel van Waschbank (Dewetsdorp), wat die oorlog oorleef het, want die einste Tommies, het nie die plaashuis afgebrand nie en dit eerder as, ja, wat sou die regte woord wees, menasie behou. Die tafel, is gekenmerk deur die afbeelding van ´n dambordspel, wat hulle op die tafel ingesny het.
Ons het later ´n replika van die ou riempiesbank gekry en dié, het wel saamgekom. Dié riempiesbank, sien foto, het nog oorspronklike selfgebreide riempies in, seker al meer as 50 jaar oud. Die nuwe koöperasie riempies, beteken mos niks. Die riempiesbank, was vir ´n ruk na ons aankoms, nié ´n plesier om mee saam te leef nie. As gevolg van die hoë vogtigheid, het daardie riempies vog getrek en het die reuk van die velle uitgestraal, asof pas gebrei. Gelukkig het dit, nie te lank geduur nie.

huis en tuin 004

gisella en oudhede 022
Dan het ouma se “sideboard” ook saamgekom. Of die ou buffet regtig ´n oudheid is, weet ek nie. Ander ouma se kombuistafel, is ook hier. Nie omdat dit juis ´n besonderse tafel is nie, maar net omdat ons as kinders soveel ure om daardie tafel deurgebring het. Saam daarmee, ses stikhout riempies eetkamer stoele, wat nie juis gebruik word nie.

huis en tuin 002

gisella en oudhede 019
Amper vergeet ek van die jonkmanskas. Wat sy geskiedenis is weet ek nie, maar kom ook uit my ma se huis, so ook die ou horlosie. Die meeste ou Suid-Afrikaanse huise, het seker so een gehad. Dié soort wat elke kwartier slaan. Daar was ´n hele verskeidenheid van hulle in die huis. My broer, wat meganies aangelê is, het hulle op ‘n stadium almal aan die loop gehad en hulle so gestel, dat die een na die ander, begin lui of klokslaan, tot die res van die huis se ergernis.

001
Van die kleinighede, wat hier is, is daar seker net twee, wat die moeite werd is om te noem. Ouma Anna, se ou “cookie jar” en die ou kanonkoeël, wat oupa Danie, volgens oorlewering, as 14jarige penkop, van die ABO af terug gebring het. Indien daar iemand is, wat hier lees, wat kundig is oor die onderwerp, sal ek graag wil weet wat die kaliber is en of dit van die Boere kant af kom en of die Tommies dit gebruik het? Terwyl die mense daar is, wat die antwoorde het, dink ons mos nie om te vra nie.

gisella en oudhede 014
Dit is die paar oudhede, wat hul weg gevind het, hierheen.
Hasta la proxima