Ek wil nie praat van reuke nie. Reuke sluit alles wat deur die neusgat geidentifiseer word, in, en daar is baie wat nie lekker ruik nie. Net nou-die-dag gehoor dat ´n ma vir haar kleinding vra, of daar ´n reukie is? Almal weet wat dít beteken en dit is nie gaaf om in dieselfde asem genoem te word as dit waaroor ek nou wil skryf nie. Geur, weet ek ook nie? Geure en kleure. Nee! Die Engels vir geur is “odour” en dit is sommer net ´n slegte reuk.

aroma 1

caaguazu, wolke en poppie 039
Aroma is die woord, dink ek. Ons is geseën met ´n paar plante in die tuin en die omgewing, wat die reuksintuig, ja, toemaar daar is dit reuk, baie goed en gemaklik laat voel. Vroegoggend en snags as die venster oop is, natuurlik afhangende van die wind, hierdie tyd van die jaar, weet ons dat dit lente is. Dit voel vir my, as jy ontwaak, met daardie aroma, van die plante, of daar ´n ekstra huppel in my stap is, vir die res van die dag. Saans, so ongeveer skemertyd, hang die aroma ook weer swaar in die lug. Dit, moet ek bysê, afhangende van die wind se rigting. As hy verkeerd waai, kom die reuk van die varkplaas af en daaroor sal ek niks verder sê nie, behalwe dat dit nie ´n gereelde wind is nie. Gelukkig!

acerola. wolke, lekkerruikblomme 004
Ons is bekend met C Louis Leipoldt se siening van Oktobermaand. Hier wil ek sê dat daardie mooiste maand, September is. Jammer, al die plante met die mooi kleure, wat hier aangepas is, is nie geseënd met daardie aromas nie, maar dan, kon dit dalk effe oorweldigend gewees het. Dink nou maar, wat sou gebeur, as die bougainvillea, inheems hier, geseënd was met daardie aroma en sê nou maar net, elke kleur het sy eie aroma gehad, maar dit sou seker,  net té goed om waar, gewees het.

007
Die sitrus, jasmyn, wisteria, frangipanie en azalea van die omgewing, meesal, met klein blommetjies,katjiepiering, dié blom ongelukkig nog nie, is veral, die draers van daardie sagte aroma.

20150902_125235 1(1)
Sommer omdat dié maand so mooi is, wens ek baie blomme vir jou toe, én mag hulle van die heel lekkerste aroma uitstraal.
“En orals in die tuin rond ruik jy sering en roos,
Jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.” (Uit Oktobermaand van C Louis Leipoldt)
Hasta la proxima.

Advertisements