Sien ek die dingetjie, of soos die ou Duitse buurvrou sou sê, die apparaat, kort-kort in die straat rondry. Probeer ´n foto oor ´n langerige afstand neem. Die zoom, werk redelik goed, maar wil darem nader kennis maak. Dat hy baie rondbeweeg, is duidelik. Sien dat die agterwielietjies van die dubbelas, ook opgelig is, as hy nie vrag op het nie.

Sete quedas jul aug 2015 152

Sete quedas jul aug 2015 207
Toe, ´n dag of wat later, en dit was nié voor die drankwinkel nie, maar toe ek na buite gaan, staan hy net agter my geparkeer. Wil nié sommer begin foto´s neem nie, sommige mense op sommige plekke, is baie liggeraak oor foto´s. Draai bietjie rond, en kyk so ongeërg na die voertuig, wag vir die eienaar. Na hy sy besigheidjie gedoen het en na buite kom en die nodige bekendstelling gedoen is. Tiago is die naam. Señor, sê nou vir my, wat se maak en model voertuig, is dit hierdie, dit is nou baie mooi. Ka ka ka lag hy. Jy kan hom maar Tiago se hibrido (hybrid of te wel kruising) noem. Die motor is ´n Chev, en hy noem ´n naam van een of ander Chev, wat aan my onbekend is. 1200 cc petrol. Die ratkas, is die van ´n Volkswagen Gol, ja dit is hoe hulle hier genoem word. Gholf word nie veel gespeel nie, maar sokker is dié sport. Om ´n doel aan te teken, skop jy ´n GOL. Die onderstel weet ek nie eens meer nie, die het ek iewers gekry en alles maar daarop en in, maak pas. Soos jy kan sien, is daar aan die buitekant, omtrent niks van ´n bestaande voertuig nie. ´n Stuk staal hier en ´n blik daar. Hy dra my al 8 jaar, met baie min probleme en jy is baie welkom om soveel foto´s as wat jy wil, te neem. Baie trots op sy handewerk.

Sete quedas jul aug 2015 205

Sete quedas jul aug 2015 204

Sete quedas jul aug 2015 203
Nou wat is jou beroep? Ek is ´n bouer én loodgieter, ag eintlik doen ek enigiets en as jy ´n vervoerwerkie gedoen wil he, hier is die voertuig vir jou. Almal in die omgewing, weet waar om my te kry. Wil darem nou nié só inbreuk maak, deur ´n foto van die binnekant te neem nie. Daar is geen vensterruit, in sig nie en ook geen deurhandvatsel aan die buitekant nie. Dit is tog onnodig, want toe hy inklim, sien ek die gewone deur skywer aan die binnekant. Maklik en sonder enige ingewikkeldheid. Niks wat die stof en die klammigheid kan maak nie werk nie. Vriendelik, waai hy toe hy wegtrek en die Chev is verbasend stil, die uitlaapyp, werk goed, hoewel die blikkerigheid effe rumoer. Onwillekeurig wonder ek, toe hy, die klipstraat aframmel, of oom Peet Buys hom destyds, deur die toets, sou sit? Hier, is in elk geval, nog bietjie ruimte, vir inisiatief. Ligte werk, spieëls is daar, flikkerligte werk en die remme, want hy het mooi stilgehou. Daar kort net die nommerplaat? Stewige toeter op die dak, want daar moet vir vriende laat weet word, dat hy verby kom.
Hier kan mens jou drank, by elke supermark en winkeltjie ook koop. Ek kan nie anders as om aan daardie unieke voertuig te dink, as ´n lorrietjie nie.
Hasta la proxima