So glad soos ….. daar moet julle maar invul, wat julle dink, erg lekker glad is. In ´n oogwink, natuurlik met ´n reëntjie, kan die paaie hier, verander in ´n verradelike monster, wat jou graag in die sloot langs die pad wil sien en baie keer ook daarin slaag. Net om jou te wys wie is eintlik baas. Baie soos ´n rustige ou perd, wat op ´n dag, onverwags, jou laat besef, dat jy nie oorgerus moet wees nie.

pad, tydskrif en son 001
Jy sê jy kan bestuur. Jy reken jy kan op ´n modderpad ook bestuur. Hoeveel keer het jy al vasgesit? Die ou mense het gesê dat jy nie kan perdry, voordat jy nie sewe keer met moederaarde kennisgemaak het nie. Dink ons kan met gemak, daardie getal verdubbel, voordat jy kan aanneem dat jy op hierdie paaie van ons, as hulle nat is, kan bestuur.

hendrik 3hendrik 2Die Duitsers hou daarvan om te sê, jy moet “Schwung” of te wel, jy moet gasgee as jy daardie gladde strook vang. Soms werk dit en soms ook maar nie. Van die 4×4 voertuie is geneig om skielik te besluit hulle wil nou dwarsdraai en dán is dit ´n gespook om hom weer in die middel van die pad te kry. ´n Grondpad word geskraap, met die middel hoër as die kante, om die water van die pad af te kry en dit is wat hom so bedrieglik maak, veral as daar nog ´n voertuig van vooraf kom.

hendrik 4
Opmerklik, soms, is die voorwielaangedrewe voertuie, wat op hul gemak, by daardie macho 4×4’s in die sloot verby kom. So ´n effe meewarig glimlag op die bestuurder se gesig. Hy weet dat hy nie naby eers kan waag om te help uitsleep nie. Nadeel van hierdie voertuie, is dat hulle redelik laag is, as daar enigsins ‘n groot vragmotor verby gekom het, hak hulle maklik aan daardie middelmannetjie. Wat hier baie gou duidelik word, is mense se bereidwilligheid, om te help. As hulle enigsins kan, anders is dit maar net voet in die hoek en die hoop om aan te hou beweeg.

sete quedas junie 2015 001
Groot nadeel van die land, waar die grond, byna oneindig diep is, is dat hier geen ordentlike gruis is nie. Dít kon soveel probleme opgelos het. Nou weet elke bestuurder, om ´n kabel of sterk tou en ´n graaf standaard toerusting in sy voertuig te maak. Hierdie uitsonderlik nat seisoen, wat ons beleef, het hierdie net meer by elkeen, wat hulle op hierdie paaie begeef, tuisgebring.
Senutergend, is dit soms. Veral as ´n pad aangedurf moét word. Groot verligting, as jy tog jou bestemming bereik het, sonder enige oponthoude.
Hasta la proxima
Sommige foto’s van Hendrik Groenewald

Advertisements