Ek dink die senuwees is minder. Dalk is dit net ´n bluf, want ek weet, dié keer is dit nie ´n tand wat getrek gaan word nie. Dat hulle vriendelik is, en weet wat hulle doen, weet ek al. Die feit dat hulle mooi is, is net ´n bonus. Dan kan ´n man mos nie vrees wys nie, maar ek kan nie anders as om te dink aan ´n vorige besoek nie. Die tand, of wat oor was van hom, het ‘n wortel gehad, wat goed gevestig was, as gevolg van die baie kalk in die Suid-Oos Vrystaatse water en genoeg melk as kind, moes verwyder word. Weet nie wie het ek later die jammerste gekry nie? Vir myself wat die gebeur en die gekraak, binne my oopsgesperde kakebeen, beleef het, of vir haar wat gespook en gespook het nie. Op ´n stadium moes sy rus. Die sweet het ons albei afgestroom, ten spyte van die lugreëling, wat daardie somersdag, op sy maksimum gestel was. Later het sy erken, dat sy nog nooit so ´n halsstarrige tand gesien het nie.

boom en tandarts 009
Doctora Gisella M Camperi C, is een van die twee plaaslike odontoloë en haar assistente is Andrea Castaño. Van dat ons hier gearriveer het, was dit vir ons baie opsigtelik dat die tandartse van die wêreld hoofsaaklik dames is. Hulle kan nie glo, as ek noem, dat waar ons vandaan kom, dit hoofsaaklik ‘n man se beroep is nie. Hoekom sou dit hier so ´n gewilde beroep onder die dames wees? Maklike antwoord. Die spreekkamer is aan die huis en dit is dus gerieflik om naby die kinders en die huishouding te wees. Dit maak baie sin.

boom en tandarts 006
Sien bordjies langs die strate: Dentista. Vra ek, as jy nou ´n dentista is, wat is die manlik daarvan. Lag sy, nee, ek is ´n odontologa, die manlik daarvan is odontologo. Daardie dentistas wat jy so langs die pad sien, is eintlik, wat ons in goeie Afrikaans sou noem, “dental mêkkenieks”. Is jy klaar gestudeer, ja, maar ek is besig, buitemuurs, om my verder te bekwaam en dan sal ek kan spesialiseer en operasies doen.

boom en tandarts 010
As ek uitstap, is ek tevrede. Die versorging van die tanne, is in goeie hanne.
Hasta la proxima