Ons nagte word koeler, die dae krimp. Herfs, die aangenaamste tyd van die jaar. Reën is genoeg, die baie hoë humiditeit, nie so aanvoelbaar nie. Ons herfs, glad nie so dramaties en skouspelagtig as die kouer dele nie. Baie bome is immergroen, dié wat wel blare verloor is skielik net een dag vaal. Dit is ook die tyd van die jaar, wat die Duitse vrouens hulle kastrolle van die rak afhaal, afstof en regmaak om konfyt te kook en sap te maak.

grosella 006
Die plant wat geteiken word is Roselle (Hibiscus sabdariffa), om een of ander rede, praat hulle hier verkeerdelik van Grosella. ´n Plant wat in bykans elke land, subtropiese lande, waar dit voorkom, sy eie streeksnaam het. Flor de Jamaica, Karkady in die Midde-Ooste, en Red Sorrel in die Karibiese Eilande. As daardie bloedrooi skutblare verskyn en swel, is dit tyd om hulle te pluk en in die kastrol te kry. Eintlik baie suur, wat deur ´n goeie skoot suiker, meer eetbaar gemaak moet word.

grosella 005

grosella 008
Geen groot kommersiële aanplantings hier nie. In elke groentetuin, is daar ´n klompie plante, wat oorvloedig produseer. Vanjaar se plante is redelik plat gewaai, deur ´n sterk wind, ´n paar weke gelede. ´n Aanduiding van wat die opbrengs is, ´n twintig liter emmer, lewer ongeveer twee kilogram konfyt. Nogal ´n takie om die pit te verwyder. Die onderste gedeelte van die “blom” word afgesny en ´n vertikale snytjie gemaak en die pit word dan uitgedop. Die afgelope week, het ons ons “Grosella” dag gehad, om ons voorraad aan te vul. Aangesien ons probeer om die inname van suiker te beperk, het ons maar so twee kilogram se vrugte verwerk, let wel, daar het twee kilogram suiker ook bygekom.

grosella 013
Soos deesdae oral die geval is, word daar baie voordele vir die gesondheid, aan die gebruik van Roselle toegeskryf. Dit verlaag blykbaar die kolestrol en bloeddruk, is ook baie goed om die senuwees te kalmeer. Prozak gee pad! Verbeter ook bloedsirkulasie, help met gewigsverlies en hou die liggaam fiks en help vir hardlywigheid, indien gereeld geneem word. Dit is veral die tee, wat vir dié dinge baie goed is.

roselle 2

roselle 3
Het ons voorgeneem, om volgende jaar bietjie te eksperimenteer en te sien of ons nie dalk ´n blatjang kan maak nie. Behoort kleur in die bord te gee.
Hasta la proxima

Advertisements