Spring ek gistermiddag. gou by die supermark in. Dit is mos langnaweek. Roep iemand agter my: Señor Danie! Fanny, ja dit is haar naam en nogal ´n gewilde naam onder die vroulike geslag hier. Hou sy die groot bruin koevert na my toe uit. Gracias! Die supermark, kry so een keer per week, almal se pos, by die poskantoor. Selde dat ons deesdae pos kry en ons is baie bly, oor elke af en toe se aflewering. ´n Nadeel van die elektroniese ontwikkeling, want daar is niks wat by ´n handgeskrewe brief of regte egte papier, kom nie. ´n Vinnige loer. Dohne Merino.

dohne 1
Tuis. Rustig, gemakstoel. Nege swart en wit seëls, vreemde gesigte, wat ek nie ken nie. Ek probeer lees wie dit is, is so klein geskryf, dat ek maar opgee. Sien dat hy gepos is op 09/12/2014. Ten spyte van die stakings, net ongeveer 5 maande om hier te kom. Lekker reuk van die glanspapier, wat uit die koevert skuif. Dohne Merino. Journal 2014 Joernaal. Op die voorblad, twee oopgesig ramme, by ´n waterkrip, Nello Stoet.

dohne 2
Lekker lees en blaai. Duidelik dat dit goed gaan met die ras. Ou Stoete, wat nog steeds goed doen en nuwes, wat besig is om hul merk te maak. Baie produksieveilings, destyds maar so ´n handjievol. Manne aan die stuur, wat toe jong seuns was. Koos Vosloo, nou die president van die Genootskap, twintig jaar gelede, het hy net begin boer. Dohne Wêreldkongres? Twintig jaar gelede, was die ras nog buite Suid-Afrika, onbekend.

´n Ou foto uit ´n joernaal van 1992

´n Ou foto uit ´n joernaal van 1992

Baie dankie Kobus Delport en jou personeel, vir die pragtydskrif. Dankie vir die herinneringe aan mense en ´n ras, wat my baie goed behandel het. Jammer, hier is nie juis geleentheid, om reklame, vir die wonderlike skaap, te maak nie. Die versiendheid en kundigheid van oom Koot Kotzé, Cameron McMaster, Hendri Londt en nou Kobus Delport, en nátuurlik, die boere wat besef het, dat die ras ´n wenner is, het die toekoms verseker.
Ek moet onthou, om iewers, ´n vergrootglas te kry, om te sien wie op daardie seëls is. Ek vermoed dat dieselfde mense is, wat aan die opmars, daar in Bloemfontein, voor die Presidentswoning, of hoe dit ookal deesdae bekendstaan, deelneem.
Hasta la proxima.