Scrapydotwo en toe Toortsie het begin met dié ding oor die telefone.  Hierdie is ´n ou blog.

Wie onthou hom nog? Daardie muurmodelle, wat  op plase aangetref is. GPO, General Post Office, stempel, duidelik op hom. Handsentrale, kode luie, ons nommer was 1213. Plaaslyn nommer 12 en die 13 het beteken een kort en 3 lank. ´n Lang lui vir die sentrale en moenie die kort aflui vergeet nie. Almal moet weet dat jy klaar gepraat het. Slinger regs en die ekstra gehoorstuk, links. Weet nie of die een op die foto een van daardie modelle was nie, geen slinger en geen ekstra gehoorstuk nie.

Dink aan die tye as klein kindertjies, hoe ons gestry het om saam te luister, met daardie ekstra gehoorstuk, as pa of ma praat. Ons was ´n hele span Coetzeetjies. Soms, sommer daar onder die foon aan die slaap geraak. Vandag dink hulle ´n telefoonkonferensie is ´n nuwe ding. Daardie jare was dit sommige aande ´n “aanlyn” kuier, pa, oupa, oom Lou, oom Dapper, oom Pieterse en oom Mynhardt, almal saam aan die gesels. Gewoonlik die mans saans, vrouens seker deur die dag hul kans gehad. Dadelik die gesprek beeindig as iemand vra, lyn besig? Natuurlik ook van die dames, wat geen einde gehad het nie. Op ons lyn was daar Ria Langasem. Spontaan, dié naam bekom. As daar ´n dringende oproep gemaak moes word, was dit nie altyd maklik om haar van die lyn af te kry nie.

Weet nie of daar modelle vir linkshandiges was nie. Kan duidelik een aand onthou, hoe ´n linkshandige besoeker gesukkel het, pa moes later vir hom die slinger kom draai. Dalk was hy maar net nie die soort foon gewoond nie. Inluister, ´n gawe tydverdryf, vir die wat bietjie verveeld was. Was seker maar net besorg oor die wel en weë van die omgewing se mense. Natuurlik nog interessanter vir die inluisteraars, as daar ´n vryer op die lyn was.

Die sentrale wat nog diens gelewer het. Oom Willie, oom Dirk, Ria, Miemie en Johan van W, staatmakers. Soek iemand en daar is nie antwoord nie, hom gou vir jou opgespoor. Seker maar vroeër ingeluister, toe die kuier elders bevestig is.

´n Apparaat van ´n era, lank reeds verby.

Hasta la proxima