´n Haastige hond verbrand sy bek, maar soms kry ´n haastige, onkundige mond ook die bitter. Die eerste ding, wat baie van die besoekers hier doen, is om die sitrusbome wat so volop is, te storm en ´n vrug te pluk en te proe. Hul gesigte toon dadelik dat dit geen smaaklike vrug is nie.

Dié tyd van die jaar is hierdie sitrusbome, vol in die vrug. Verander die beeste van kamp, is dit die eerste waar heen hul storm, om die vrugte op die grond op te tel. ´n Paar het die kuns bemeester om op hul agterpote, die vrugte binne bereik, met ´n lang tong te pluk. Rol hom heen en weer in die kies om lekker “grip” te kry, byt en kou dan dat die spoegspat. Koningskos, ten minste vir die beeste. Die ouer mense beweer dat daardie bittersmaak, maak dat die diere geen bek-en-klou kry nie. Dink nie dat dit ooit bewys is nie.

Apepu of Citrus aurantium, of bittersuur lemoen, wat oral wild groei, se blare is aanvanklik gebruik vir die ekstraksie van petitgrain of lemoenblaarolie. Die blomme is gebruik vir die produksie van ´n olie genaamd Neroli. Behalwe vir die olies vir die skoonheidsbedryf, word die vrugte aangewend vir ´n konfyt en vir sap, nie vir die mense wat ´n afkeer in suiker het nie, want daarvan is daar genoeg in. Is al so deel van die land dat dit beskou word as inheems, hierdie boom.

Al is ´n vrug dalk baie mooi, onthou daar mag baie bitter in wees.

Hasta la proxima.