´n Huis met min water is onaangenaam en ook goeie rede vir die vrou van die huis
om ontevrede en krapperig te wees. ´n Spaarsamige bad, net tot so by die waterlyn
en te min water vir die wasmasjien, is ´n goeie fondament vir onmin.

Hier by ons, is die huise se water hoofsaaklik afkomstig van putte. Ons put het die
afgelope tyd begin ingee. Het aangeneem dat dit was omdat ons die afgelope seisoen
byna geen swaar donderbuie gehad het wat die onderaardse water kon voed nie. Na
´n bietjie gesels met die ou inwoners, het hulle ons aanbeveel om die put te laat
skoonmaak, voor ons daaraan dink om te boor. In die 14 jaar wat ons hier is, is dit
nooit gedoen nie en ´n hele paar jaar voor dit dalk ook nie.

As mens so iets nog nie gedoen het nie, aanvaar jy dat dit ´n vreeslike werk moet wees.
Hoor toe in die omgewing van putgrawers. Vanoggend daag hulle toe op. 3 jong manne,
Fidel, José en Catalino. Geen gereedskap. Wat het julle nodig? ´n Tou, katrolwiel, ´n
emmer en dalk ´n graaf. Verwyder die deksel, is toe heeltemal in hulle skik, die put het
´n leer tot onder. Twee stelle voetholtes, teenoorstaande, uitgekap in die wand, gedoen
deur die putgrawers, ongeveer 25 jaar gelede en nog ongeskonde en bruikbaar in die
grondwand. Dieselfde grondformasie tot op 23 meter, die diepte van die put.

Sonder om eers ´n tou om sy lyf te bind, is José, hy doen dié werk vandat hy 14 was,
in die donker diepte af na die ronde sirkeltjie water, doer onder. Voete wydsbeen geplant,
ongeveer 1,10 meter uitmekaar, in daardie holtes en slegs met hande aan die tou. Vir
iemand wat aan hoogtevrees lei, ´n skrikwekkende idee en genoeg angs vir ´n paar
nagmerries. Met die dompelpomp is die orige water uitgepomp en met ´n emmer is die
modder uitgeskep. 24 emmers modder, een ou emmer wat seker jare gelede laat val is
en 3 uur na ons begin het, is die put “gepoets” en kon mens die water hoor en sien invloei
uit die aar wat weer skoon is.

Daar is weer vrede en rustigheid in die huis. Die berg was toe maar eintlik ´n modderhopie.

Hasta la proxima.